Explore
Also Available in:

Kewer ‘oepse’

Landgebonde insekte op windverwaaide eilande
Selfs ‘n defek kan soms ‘n voordeel wees

deur Carl Wieland
vertaal deur Nicolene Filmalter

‘n Groot struikelblok vir die evolusionêre geloof is dit: watter meganisme kon moontlik al die ekstra inligting bygevoeg het wat nodig is om ‘n eensellige organisme progressief te verander in pelikane, palmbome en persone? Natuurlike seleksie alleen kan dit nie doen nie—seleksie behels ‘n verlies van inligting. ‘n Groep organismes mag meer aanpasbaar word vir koue, byvoorbeeld, deur die uitskakeling van die organismes wat nie genoeg van die genetiese inligting dra om ‘n dik pels te maak nie. Maar dit verduidelik nie die oorsprong van die inligting om ‘n dik pels te maak nie.

Vir evolusioniste is daar net ‘een saak op die spel’ om die nuwe inligting wat hulle teorie vereis, te verduidelik—mutasies. Sulke toevallige foute vind plaas soos wat die genetiese inligting (die gekodeerde stel instruksies op die DNA, wat die ’resep’ of ’blou-druk’ is en die konstruksie en funksionering van die organisme spesifiseer) van een generasie na die volgende gekopieer word. So ‘n skommeling van inligting sal natuurlik neig om óf skadelik,1 óf ten beste, neutraal te wees.2

Evolusioniste glo egter dat daar soms ‘n ’goeie’ mutasie sal plaasvind wat deur seleksie bevoordeel sal word en die organisme sal toelaat om langs sy evolusionêre roete te vorder na iets heeltemal anders.

Die verkeerde tipe verandering

Is daar ‘goeie’ mutasies? Evolusioniste kan na ‘n klein handjievol gevalle verwys waar ‘n mutasie ‘n organisme gehelp het om beter te kan oorleef as dié daarsonder. Eintlik is dit nodig dat hulle nader kyk. Sulke ‘goeie’ foute is nog steeds die verkeerde tipe verandering om ‘n vis te verander in ‘n filosofeerder—hulle is in presies die verkeerde rigting oppad. Eerder as dat inligting toegevoeg word, word inligting vernietig of die manier waarop dit uitgedruk word, word ge-korrupteer (nie verbasend nie, want hulle is ewekansige foute).

Byvoorbeeld, kewers wat hulle vlerke verloor. ‘n Bepaalde gevlerkte kewer-tipe leef op groot kontinentale gebiede; dieselfde tipe kewer op ‘n winderige eiland het egter geen vlerke nie.

Dit is maklik om voor te stel wat gebeur het. Elke nou en dan, kan ‘n mutasie-gebrek verhoed dat vlerke vorm in kewer bevolkings. Met ander woorde, die ‘vlerk-maak’ inligting raak verlore of word op een of ander manier deurmekaar gegooi.

Die beskadigde geen (‘n geen is soos ‘n lang sin wat een deel van die totale instruksies dra wat op die DNS geprogrammeer is) sal dan oorgedra word aan al daardie kewer se nakomelinge, en hulle nakomelinge, soos dit oor en oor gekopieer word. Al hierdie kewer nakomelinge sal dus vlerkloos wees.

As ‘n kewer met só ‘n vlerklose defek byvoorbeeld op die Australiese vasteland leef, sal dit minder kans hê om weg te vlieg van kewer-vreters af, dus sal dit meer geneig wees om geëlimineer te word deur ’oorlewing van die sterkste’ voordat dit ‘n nageslag kan agterlaat. Hierdie sogenaamde ‘natuurlike seleksie’ kan help om sulke genetiese foute te elimineer (of ten minste, om die opbou daarvan te verminder).

Weggewaai

Op die winderige eiland is die kewers wat kan vlieg egter geneig om in die see ingewaai te word, dus is vlerkloosheid ‘n voordeel. Met verloop van tyd sal die eliminasie van al die gevlerktes verseker dat slegs dié gene van hierdie nuwe ‘vlerklose’ variasie, wat dus ‘natuurlik geselekteer’ is, oorleef. ‘Daar!’ sê die evolusionis. ‘n Gunstige mutasie—evolusie in aksie!’ Dit bly egter in gebreke om sy saak te stel, want al is dit voordelig vir oorlewing, is dit steeds ‘n gebrek—‘n verlies of korrupsie van inligting. Dit is presies die teenoorgestelde van wat evolusioniste vereis om ware evolusie te demonstreer.

Om geloof in ‘n proses te ondersteun wat na bewering molekules in mense verander het, vereis die toevoeging van inligting deur mutasies. Deur te demonstreer dat inligting-verlorende defekte ‘n oorlewingsvoordeel kan gee, is irrelevant, so ver as wat dit die bewyse vir ware evolusie betref.

In kort,

  1. Die evolusionêre teorie vereis dat sommige mutasies ‘opwaarts’ moet gaan—om inligting by te voeg.
  2. Die mutasies wat ons waarneem, is oor die algemeen neutraal (hulle verander nie die inligting of die ‘betekenis’ in die kode nie) of anders is hulle afwaartse inligtings-defekte wat inligting laat verlore raak of korrupteer.
  3. Die rare ‘voordelige’ mutasies waaraan evolusioniste vasklou, blyk almal soos hierdie vlerklose kewer te wees—afwaartse veranderinge, verlies van inligting wat, hoewel hulle ‘n oorlewingsvoordeel kan gee, in presies die verkeerde rigting stuur vir evolusie.

Al ons realistiese wêreld-ervarings, veral in die ‘inligtings-eeu’, dui daarop dat om op toevallige kopiëringsfoute te vertrou om werklike inligting te genereer, wensdenkery deur ‘ware gelowiges’ is, nie wetenskap nie.

Notas

  1. Duisende oorerflike siektes in mense, word byvoorbeeld veroorsaak deur presies sulke oorgeërfde mutasie-defekte. Terug na teks.
  2. Dit is, met geen effek op die uitkoms, of die uitdruklike betekenis van die kode nie. Deur Engels te gebruik as ‘n (weliswaar beperkte) analogie, veronderstel ‘n boodskap oorgedra as ‘the enemy is now attacking,’ bevat per ongeluk ‘n een-letter vervanging om dit te verander na ‘the enemy is not attacking.’ Die resultaat is potensieel rampspoedig, net soos ‘n skadelike mutasie. Terwyl ‘n verandering na ‘tha enemy is now attacking’ neutraal is; ‘n verandering, maar dit affekteer nie die eindresultaat nie. Terug na teks.